Tarte Tatin

Hierdie "tert" is 'n ou-ou wenner uit Frankryk - twee Tannies by hul hotel se kombuis het blykbaar 'n foutjie begaan en dit toe probeer regmaak deur 'n stuk deeg op te gooi en die storie "verkeerd-om" te probeer bedien... Die gaste was blykbaar baie ingenome en so het die resep sy voete gevind in die Franse kookkuns

Eers het Juliana (saam met wie ek Franse klasse geloop het) voorgestel ons moet dit probeer maak en in die proses 'n Franse kok via 'n internet video volg - wat natuurlik deel is van "Fraanse klasse". Dit was 'n groot sukses en ek wou op struik 'n pan aanskaf hiervoor... dis egter nie so maklik (en goedkoop) nie.

Met my terugkeer na Berlyn, het ek eendag so 'n pan teegekom, en tesame met my en Gerd wat 'n kompetisie aan die gang het om gewig te verloor tot en met Kersfees, het ek en Daniel een aand 'n Tarte Tatin aangepak. Natuurlik deur na 'n fransman se video te kyk en te raai dat ons dit reg verstaan...

Ons resep was as volg - afgelei van die fransman se video:

Pere (± 12-14) of appels (±8-10), afgeskil, gehalfveer en pitte verwyder
100 g strooisuiker
85 g botter
Deeg, uitgerol en gesny so groot soos pan - dalk klein bietjie groter
Oond teen 180 Grade C

1. In die pan, kook 'n karamel van die suiker en botter sodat dit donker raak.
2. Verwyder van hitte en pak vrugte redelik styf daarin. Druk liggies om so min moontlik spasie tussen vrugte te los.
3. Bak in die oond vir sowat 30 min.
4. Verwyder uit oond en pas die deeg bo-op die vrugte. Maak 'n gat in die middel sodat stoom kan ontsnap. Druk die deeg goed op die vrugte vas, veral aan die kante.
5. Bak in die oond vir verdere 45 min.
6. Neem uit oond, en laat vir sowat 1 uur afkoel.
7. Draai die pan om op 'n koek/tert bord - oppas vir die sous wat kan uitspat met die omdraaislag.



Comments